Sunday 20 March 2011

Die begin van die einde.

Vandag is die laaste dag in 'n lang ruk wat ek allerhande lekker dinge gaan eet, sommer net eet, net omdat ek kan.  Want vandag is die begin van die einde van my mollige lyfie!  
Maar kom ek begin by die begin.  Die heel begin wat 'n begin gemaak het aan hierdie einde.

So twee weke terug kuier ek by 'n nuwe vriend van my in die kaap.  'n Pragtige man.  Daardie soort wat jy met eerste oogopslag dink:  Sjoe, jy laat my hart vinniger klop.  Maar so sit ons lekker en koffie dink terwyl ek diep in sy amber-groen ogies en kyk, toe die onderwerp tersprake kom.  Mans se visuele ingesteldheid.  Na 'n lang gesprek oor al die dinge se Meneer Troumateriaal vir my: 
"Jy is so pragtige meisie, veral met daardie groen oe van jou.  Jy weet, ek ken baie mesies wat nie potensiaal het nie.  Maar jy het soveel potensiaal.  Regtig!  Maar jy kan maar doen om in die gym te kom. "

Ja, ek het gevoel ek kan die beker koffie in my hand oor sy mooi gesiggie uitgooi, maar toe tref 'n realiteit my.  Ek kruip weg agter my lyf.  Ek dink dat ek die soort mans wat net vir die uiterlike gaan en ook net een ding wil he op 'n afstand hou met die ekstra gewig wat ek ronddra.  En ek glo vas dat my Meneer Reg verby dit gaan kyk.  Maar toe besef ek hoe lekker lei ek myself om die bos.  Meneer Reg is ook maar visueel ingestel.  Hy wil ook 'n mooi nooi he... iemand wat gemaklik is in haar lyf, wat vrede het met haarself.  Maar ek is nie.  Ek is nie gemaklik met myself nie en ek het ook nie vrede nie, so hoe wil ek he iemand anders moet gemaklik wees met myself?  Hoe wil ek he iemand moet vir my lief wees, as ek nie vir myself lief is nie.  Hoe wil ek he dat iemand my aantreklik moet vind as ek myself nie eers aantreklik vind nie...??? 

Daardie aand kon ek nie slaap nie.  Die gesprek het in my kop bly maal.  En weet jy, ek is nie eers kwaad of vies oor dit wat hy gese het nie.  Ons vriendskap is gebasseer op eerlikheid.  En hy was net eerlik.  Eintlik is ek vir hom baie dankbaar, want hy het my gehelp om die dinge raak te sien.  Om te besef dat ek vir myself jok.  En ook dat ek bereid is om maer te word as ek Meneer Reg eers het...  Maar wat van nou?  Wat van my verhouding met God.  Hy wat immers my eerste liefde is, vir wie my liggaam 'n tempel is.  Hoekom is ek nie bereid om dit vir Hom te doen nie...  en ek het besluit ek gaan. 

Ek gaan maer word.  Hierdie Mollige Nooi word MOOI!! 

Ek en my vriendin, kom ons noem haar Alma, het lank hieroor gesels, 'n gepaste dieet gesoek, en dit gekry.  Ons begin more op ons reis na beterskap, na selfaanvaarding, na mooiword.

Vandag, 20 Maart '11 weeg ek 92.5kg, en ek is 1.66m lank.  Ek wil graag tussen 65 en 70 weeg.  En
'watch this space', oor 'n paar maande gaan my vriende en familie my nie herken nie...